top of page

WAT GLO ONS

Belydenis Grondslag van die Gereformeerde Evangeliese Kerk van Australië

Die Gereformeerde Evangeliese Kerk van Australie staan binne die breë Gereformeerde tradisie en onderskryf daarom die klassieke Gereformeerde belydenisse nl. die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls en die Nederlandse Geloofsbelydenis asook die Westminister “Confession”. Ons het ook ’n “Statement of Faith” aanvaar wat in kort die kern van ons belydenis aandui. Kliek "hier" om dit te besigtig. Ons identifiseer verder ook met die kernwaardes en oortuigings van die wêreldwye Evangeliese beweging. Hierdie waardes kan soos volg opgesom word:

02-Who-we-are_Brisbane-bg@2x.jpg

Die Bybel

Ons staan baie sterk op die gesag van die Bybel as die geïnspireerde Woord van God. Dit beteken dat ons ’n baie hoë premie plaas op die Bybel as gids vir hoe om te leef en wat om te glo. Dit beteken verder dat ons denkrigtings verwerp wat die gesag van die Bybel ondermyn.

Die Kruis

Ons glo dat die plaasvervangende dood van Jesus Christus aan die Kruis die middelpunt van die geskiedenis en die sentrale boodskap van die Bybel is. Ons bely op grond hiervan dat verlossing nie uit onsself kom nie, maar dat ons ontvangers is van God se genade op grond van Jesus se soendood.

Verandering

Ons hou daaraan vas dat die Evangelie nie net op intellektuele vlak waar is nie, maar dat dit elke aspek van ’n mens se lewe moet aanraak en verander. Hierdie verandering begin by die oorgee van ’n mens se lewe aan die verlossing en Koningskap van Christus en kring van daar af uit na elke aspek van ons bestaan.

Die Wêreld

Ons is oortuig dat die boodskap van die Evangelie aan elke mens in die wêreld verkondig moet word en dat die beginsels wat daarin vervat is die potensiaal het om nie net individue nie, maar ook hele samelewings, te verander. Dit is dus ons strewe om die Evangelie nie net in ons eie kring uit te leef nie,  maar om ook alles in ons vermoë te doen om te verseker dat dit van ons af verder gaan.

Hierdie sentrale Evangeliese waarhede is natuurlik geensins in stryd met ons Gereformeerde karakter nie. Ons kan trouens ons Evangeliese oortuigings as ons breë identiteit en ons Gereformeerde karakter as die spesifieke toepassing daarvan sien. Deur onsself as beide Evangelies en Gereformeerd te identifiseer, assosieer ons onsself dus beide met miljoene Evangeliese Christene wat die Here en Sy Woord liefhet en ook met dié wat ons Gereformeerde oortuigings deel.

bottom of page